Ons Storie
Corpus Christi Gemeente is ‘n gemeente met wortels wat diep gevestig is in die A.G.S. (Apostoliese Geloofsending van Suid-Afrika). Die gemeente is in die vroeë twintigste eeu gestig as die AGS Parow. Ons is al amper 100 jaar oud. Ons is trots hierop. In die laat negentigs is die huidige kerkgebou ingewy en is die naam verander na Corpus Christi (wat beteken ‘Liggaam van Christus’). Met die hervestiging van die gemeente in Panorama is ons invloedsfeer vergroot en omdat ons so sigbaar is teen die N1 het ons gemeente die geografiese grense van ons omgewing verbygesteek. Ons lidmate woon regoor die skiereiland.
Ons Waardes
Ons beskou onsself as ‘n inklusiewe gemeenskap waar enigiemand welkom is. Ons bedien primêr in Afrikaans, maar is akkommoderend teenoor andertaliges. Liefde vir mense transendeer taalgrense. Ons is gemaklik en nie so tradisievas dat mense uitgesluit voel nie. Ons erken dat ons nie al die antwoorde het nie en laat ons in baie opsigte deur ons denominasie lei betreffende ons geloofsbelydenis. Ons wil almal lief hê en gasvryheid is vir ons ‘n baie belangrike waarde. Ons is ‘n eietydse gemeente wat op kontemporêre wyse mense wil bedien. Ons musiek en prediking is relevant en modern en wanneer jy ons besoek gaan jy altyd met stof tot nadenke huis toe. Ons wil jou ook nie los waar jy was nie – ons hoop is dat jy altyd beweeg sal word.